Orion Group

 

Miljard se waterfront beplan vir Bethlehem - JANUARY 2007

Lynda Greyling

BETHLEHEM gaan binnekort met sy eie waterfront spog.

Die waterfront van sowat R1 miljard by Gobles Folley sal onder meer ’n kleinhandelswinkelkompleks, luukse wooneenhede, hotel en aftreeoord hê.
Ná maande lange beplanning en samesprekings en nadat die Dihlabeng-munisipaliteit ’n moratorium op sekere beplande ontwikkelings opgehef het, het die Oriongroep, ’n genoteerde maatskappy van Johannesburg, toestemming verkry om die waterfront te ontwikkel.

Volgens mnr. Franz Gmeiner, uitvoerende hoofamptenaar van die Oriongroep, het sy maatskappy ondersoek ingestel na ’n geskikte perseel nadat die Pick ’n Pay-groep hulle daartoe versoek het.

Die Oriongroep het ’n konsortium, Orion Real Estate, en ’n swartbemagtigingsonderneming, Blacky, gestig, wat vir die ontwikkeling verantwoordelik is. Tydens die eerste fase sal die winkelkompleks opgerig word.

Benewens ’n Pick ’n Pay wat sowat 6000m² beslaan, sal daar verskeie nasionale kleinhandelwinkels wees. Die tweede fase sal luukse hoëdigtheids-residensiële akkommodasie wees, waarna ’n aftreeoord, deeltitel-woonstelle en ’n voldiens-drie- tot vierster-hotel gebou sal word.

Die ontwikkeling gaan aansluit by die naburige woonbuurte. Hoewel voorlopige planne reeds saamgestel is, is daar nog nie finaal besluit op ’n bepaalde boustyl en naam vir die nuwe sentrum nie. “Ons gaan beslis die boustyl aanpas by die res van die omgewing. Ons sal moontlik van sandsteen gebruik maak,” sê Gmeiner.

Die vooraansig en ingang van die waterfront sal aan die Jordania-woonbuurt grens terwyl die agterkant, wat die aflewerings by die verskillende winkels en vullisverwydering insluit, aan Lughawestraat sal wees.

“Ons gaan soveel moontlik van plaaslike kontrakteurs en arbeiders gebruik maak. Orion sal ook ’n groot aantal permanente werkgeleenthede skep.”

Hulle sal ook twee plaaslike skole van die Dihlabeng-munisipaliteit se keuse finansieel ondersteun.

Daarby beplan hulle om tien werkstasies vir ’n rekenaarsentrum by ’n skool te skenk.
Mense wat belang stel om ’n winkelruimte te huur kan mnr. Aldo Albertse by 083-625-6320, of mev. Rina Swanepoel by (058) 303-6553 kontak.

Dit sal sowat 12 tot 15 maande neem vir die goedkeuring van ’n dorpstigting.
’n Omgewingsimpakstudie vorm deel van die voorafgaande goedkeuring en wanneer die nodige toestemming verkry is, sal bouwerk begin. Dit sal sowat 30 maande neem om te voltooi.

Die waarde van eiendom wat aan die ontwikkeling grens, sal toeneem en die ontwikkeling sal beslis ’n hupstoot vir die Orion-aandeleprys wees.

 

Back to Orion in the News